Met hierdie prototipe geverfde illustrasies, nooi ek die toeskouer uit om saam met my te kyk na die uitbeelding van ‘n onsigbare lewensproses wat aangemoedig is deur Richard Rohr in “Falling Upwards”, of ook “The Immortal Diamond”, of ook deur “Entering the Castle”: Carolyn Myss. Die noem van hierdie titels lei my onontwykend na baie ander titels en skrywers. Noem maar byvoorbeeld T.T. Cloete of Antjie Krog en ook Mandela (om binne die Suid-Afrikaanse grense te bly) en die lewensprosesse word onmiddelik gemotiveer en voortgedryf. Dit is gebeurtenisse wat op mistieke spirituele vlak plaasvind. Waarskynlik is dit belewenisse wat onomwonde en vanselfsprekend plaasvind indien mens persoonlikheidsontwikkeling as prioriteit sien.
Die toeskouer se vermoë om na die illustrasies te kyk op ‘n bloot eenvoudige vlak, sonder die behoefte na interpretasie, beoordeling of klassifisering, is van uiterste belang. Alleen wanneer dit plaasvind, sou hierdie illustrasies beskou kan word as geïntegreerd. (Ken Wilber: © 2009 Integral Life. All Rights Reserved. http://IntegralLife.com “Integral Art and Literary Theory” Dan sou ek selfs sover gaan om te sê dat dit wat ek uitgedruk het, beskou kan word as naïwe geïntegreerde kuns wat onder andere geïnspireer is deur Art Nouveau. |
In al drie die prototipe prente speel die lyne ‘n belangrike rol. Die lyne simboliseer die afwesigheid van kleur en speel die rol van lig. Tydens die verfproses het juis hierdie wit lyne ‘n effek gehad op ‘n sekere emosionele gebeurtenis wat besig was om afgehandel te word. Ek het intuïtief begin verf wat emosioneel sowel as kognitief besig was om plaas te vind. Dit was soos fases wat eers afgehandel kon word nadat dit simbolies uitgedruk is, en in die opsig was dit ‘n soort oordrag wat plaasgevind het. Dit wat gewoonlik onsigbaar is, wou in kleur en vorm uitgedruk word. Die lyne van lig en afwesigheid van kleur het ruimtes geskep waarin die spanning kon ontwyk, terwyl dit tergelykertyd op papier spanning geskep het. Eers deur die waarneming van hierdie ruimtes in die vorm van lyn en kleur, kon die proses verder ontwikkel. Soos wat die ontwikkeling op emosioneel-kognitiewe vlak voortgegaan het, het ook die uitdrukkingsvorm daarvan verander. Prototipe 1a bevat glad nie woorde nie. Die liglyne het die weg gebaan vir die aanvaarding van woorde, boodskappe of dalk insig, wat mettertyd die leegtes vul in die onvoltooide Prototipe 1b. Dit is soos wanneer die uitspansel en Vader-God, Moeder-God self intree om die ontwikkeling te volstrek. In Prototipe 1c is dit duidelik dat die self nie instaat daartoe is om hierdie ontwikkeling onafhanklik toe te laat nie. Die woorde word van bo af ingevoer en omdat die woord Lewende Woord is, is dit effektief. |
Die effek daarvan gaan uit van die stembande af en uit die mond uit. Dit is ‘n sirkulerende toestand en die kringe brei uit sodat die effek daarvan die hele wese omvat. Nadat Prototipe 1c voltooi is, het ek ‘n helder droom gehad waarin my ma en my ouma my uit ‘n stroom water uitlig en aangee na hande wat my aangee na nog meer hande (die tema van die onsigbare engel) totdat ek hoog bo die aarde op ‘n wolk neergesit is. Van daar af het ek afgekyk ondertoe, in die water in – en so het die Rooi Karos ontstaan. Die pynliggaam was nie meer ‘n pynliggaam nie maar het in der waarheid beskerming en warmte gevind juis in die wond. Dit is die ego wat dramaties gewond is en wat in die tweede lewenshelfte die ware betekenis van die gebeurtenisse kan raaksien en aanvaar en troos vind.
|